Vlugtig, Nou Op Dstv Box Office

VLUGTIG, die film gebaseer op die kortfliek met dieselfde titel wat in 2017 by kykNET se Silwerskermfees gepremière het, is vanaf vandag op DStv Box Office te sien. Die film is vervaardig deur Danie Bester van The Film Factory, met Marinus Gubitz as regisseur en Ernst Van Wyk as draaiboekskrywer. Die rolverdeling sluit in Arno Greeff, Jane De Wet, Ernst Van Wyk en meer.

Vlugtig, Nou Op Dstv Box Office

Simon Berg (Arno Greeff) se droom van toneelspel is aan flarde. Al sy jeug-ambisies van die rooitapyt het nou plek gemaak vir vernederende rolle op ‘n kinderprogram asook desperaatheid dat iemand hom in ‘n oudisie sal raaksien vir die talent wat hy is. Sy geluk draai egter wanneer sy rolmodel regisseur aan sy deur kom klop met ‘n ultimatum. Dis ‘n byna messiaanse oomblik wanneer Andreas Vog (Ernst Van Wyk) aan Simon die rol van ‘n leeftyd bied in sy nuwe Rooikappie-toneelstuk as die houtkapper sowel as die wolf. Die enigste voorwaarde is dat Simon alles wat in sy lewe aangaan prysgee en saam met Andreas in die kar klim om te gaan repeteer. Dit vat nie veel oortuiging nie en Simon durf die reis saam met Andreas aan. Wat Simon egter nie besef nie, is dat hy eintlik Rooikappie is wat in die pad val saam met die wolf en dié se duistere motiewe.

 

By Andreas se huisie in die woude aangekom ontmoet Simon sy mede-akteur, Chantel (Jane De Wet), ‘n treffende jong aktrise wat al baie meer as hy bereik het in die vermaaklikheidsbedryf. Ten spyte van die aanvanklike intimidasie wat hy ervaar, raak hy vinnig gemaklik met haar. Sy’s toeganklik, oop en opgewonde oor hom as mens. 

 

Voordat hulle begin repeteer moedig Andreas vir Simon aan om hout te kap, sodat hy gewoond kan raak aan die gevoel van die byl. Die sessies raak egter al hoe langer en meer uitmergelend soos die proses vorder. Dis ook nie lank nie voor Andreas tydens repetisies vir Simon met kritiek begin peper. Dit raak duidelik dat Andreas besig is met meer as net ‘method acting’. Daar’s iets anders aan die broei. Simon word tot die uiterste gedryf deur Andreas se onverbiddelike aanslae, maar wanneer Andreas sy fokus na Chantel toe skuif, breek die wolf in Simon uiteindelik los. 

 

Kyk die lokprent vir VLUGTIG hier!

Vlugtig, Nou Op Dstv Box Office

“Dit voel soos ‘n leeftyd terug wat ons aan Vlugtig gewerk het. Ek’s opgewonde om iets vars en uniek met die Afrikaanse mark te deel.” – Ernst Van Wyk, Akteur & Draaiboekskrywer.

 

“Vreeslik opgewonde om hierdie film met julle te deel. Ons het dit reggekry om iets te maak wat die gehoor onkant gaan vang. Dis vars, geheimsinnig en vol spanning. Meer as ‘n fliek, hierdie is ‘n ervaring.” – Arno Greeff, Akteur.

 

“Twee akteurs, een regisseur en geen grense… Vlugtig is ’n mengsel van sprokie en psigose wat spreek tot ’n oeroue kunstenaarsdilemma: Hoe ver is jy bereid om te gaan vir jou kuns? Ons kan nie wag vir kykers om saam met ons te kom speel in die woud nie – waar die lyne tussen werklikheid en fiksie soms bietjie vaag word!” – Jane De Wet, Aktrise.

 

“Vlugtig is ‘n tipe van poort waar deur die kyker die kuns kan ervaar selfs lank voor die gordyn oopgemaak word.” – Marinus Gubitz, Regisseur.

 

“Ek was mal oor die oorspronklike Vlugtig kortfilm, maar het ook gevoel daar was baie spasie om die karakters verder te ontdek. Ek was dus baie opgewonde toe Marinus en Ernst my kontak en vra om te help om die vollengte weergawe te vervaardig. Dit is iets baie anders en ek kan nie wag op die gehoor se reaksie nie!” – Danie Bester, Vervaardiger.


VLUGTIG
is vanaf  25 Maart 2022 op DStv Box Office te sien!

 

THE FILM FACTORY Kontak Besonderhede:
Website  ⋅ Facebook  ⋅ Instagram

Vlugtig, Nou Op Dstv Box Office 

No Comments Yet

Leave a Reply

Your email address will not be published.

BLOSS is an international media platform for South African women who live all over the world in the age group, 20 – 35 years. We integrate print and technology through innovative and exciting ways to keep things fresh, modern and interactive.