Sharine Barnard Se Nuwe Enkelsnit, Pray

Sharine Barnard Se Nuwe Enkelsnit, Pray Gaan Oor Onvoorwaardelike Geloof In God Se Plan Vir Ons Lewens

In swaar tye, wanneer ons moeilike besluite moet maak en ons probleme oorweldigend voel, is die maklik om te wonder oor God se plan vir ons. Maar ’n splinternuwe geestelike liedjie is pas uitgereik om ons te herinner om aan te hou glo en vertrou.

PRAY, die derde enkelsnit deur die begaafde sanger en liedjieskrywer – Sharine Barnard – gaan oor onvoorwaardelike geloof in God se plan vir ons lewens. “Soms het ons ’n visie vir ons lewe wat nie noodwendig ooreenstem met God se plan nie en is ons geneig om in vrees te leef oor die uitkoms wanneer belangrike besluite geneem moet word,” sê Sharine. PRAY verseker ons van God se liefde en stel ons gerus. Dit vermaan ons om nie bang te wees vir wat die toekoms inhou nie, want daar is Iemand wat voor ons loop en al wat ons moet doen is glo.”  

Sharine Barnard Se Nuwe Enkelsnit, Pray

Die liedjie het in ’n droom na Sharine toe gekom. “Ek het een aand gedroom ek staan voor ’n groot skare wat vir lofprysing bymekaar gekom het, en ek het PRAY gesing. Toe ek wakker word, het ek die woorde en note daarvan op sy selfoon getik en verder geslaap. Die volgende oggend het ek koffie gemaak en oudergewoonte voor die klavier gaan sit terwyl almal nog slaap. Waar enige ander lied deeglik bedink en aan geskaaf moes word, het PRAY net gevloei. Dit was soos ’n Skriflesing wat vir my gegee is as antwoord op my kwelvrae; dit het my kalm en rustig gemaak en ek het besef dat alles reg sal uitwerk.”

Sharine het die liedjie self geskryf en gekomponeer, terwyl André de Jager van 2 Tone Records dit vervaardig het, en sy erken dat dit baie van haar vorige werk verskil. “Al my liedjies vertel ’n storie en is versigtig aanmekaar gesit, nie net wat die storielyn aanbetref nie, maar ook wat die formaat en instrumente behels. PRAY is egter my gunsteling,” deel sy. “Ek dink mense is honger vir hoop en hierdie liedjie bied die nodige hoop en gerusstelling dat alles oukei gaan wees. Watookal jou situasie is, waarookal jy in die wêreld is en ongeag van wat jou situasie is, daar is altyd hoop.”

Die musiekvideo, wat deur Belinda de Jager by 2 Tone Records se ateljee verfilm is, vang ’n normale dag in Sharine se lewe vas. “Ek hou nie daarvan om iets voor te gee wat ek nie is nie, so die video wys vir mense wie ek is. Dit wys hoe my lewe is – ek in my stewels en kakieklere wat vuil en vol spoeg is van leeus en katte kosgee. My dae is propvol en daar is nie tyd vir voorgee nie. Dit wat jy sien, is wie ek is.”

Die boodskap wat sy graag hierdeur wil weergee, is om net jouself te wees. “Ek weet daar is baie mense, wat net soos ek, baie druk op hulleself sit om seker te maak dat alles in ons lewens soos ’n goed geoliede masjien moet loop en dit kan soms oorweldigend wees. Ons is bang dat die masjien sal oppak of wanfunksioneer as ons ’n bietjie ontspan of besluite neem wat nie baie deeglik deurdink is nie. Maar op die ou einde steel vrees ons geluk en innerlike vrede. Ons moenie soveel druk op onsself sit om alles perfek te doen, of om perfek te wees nie, maar probeer glo soos ’n kind dat ons nie alleen in beheer is van alles nie en dat alles reg sal uitwerk as jou hart op die regte plek is.”

Sy voeg by: “Deesdae is daar baie druk op mense, en veral jongmense, om iets te wees wat hulle nie is nie. Dit is verstommend om te sien tot watter uiterstes hulle gaan om op sosiale media in te pas. Hierdie video is juis so gemaak om vir iemand daar buite te sê dat dit oukei is om net jouself te wees.”

Kyk die video hier:

 

Sharine het Jan Kempdorp grootgeword, waar sy ’n sorgvrye kinderlewe gehad het. Gedurende haar skooljare, is sy deur ’n musiekonderwyseres – wat haar passie vir musiek gedeel het – geïnspireer en aangemoedig om haar passie uit te leef.

Alhoewel sy altyd mal was oor musiek, was dit nie die hooffokus van haar lewe nie – sy het die afgelope twintig jaar kinders grootgemaak, ’n veilige hawe geskep vir leeus en ander groot katte en verskeie suksesvolle besighede gebou wat sy steeds bedryf. Dit het verander gedurende grendeltyd, toe hierdie ma van vier uiteindelik tyd gehad het om asem te skep en weer haar musiekpassie uit te leef. Sy het toe begin skryf oor die lewe en die liefde en die res is geskiedenis.

“Baie mense verstaan hoe dit voel om altyd daar te wees vir almal. Nadat ek my pa verloor het, het ek besef dat ons net een lewe het en dat ons dit ten volle, en met passie, moet leef. Ons moet tyd maak vir die dinge wat vir ons belangrik is en wat ons geniet.”

Sy put inspirasie uit die lewe en al sy fasette – liefde, geluk, en sukses, maar ook teleurstelling en hartseer. “Daar is ’n tyd en ’n plek vir alles. Ons beleef verskillende dinge en emosies op verskillende tye in ons lewens, maar ongeag van waardeur ons gaan, is musiek altyd daar.”  

Buiten vir haar liefde vir musiek, is Sharine – wat die mede-eienaar is van Bagamoya Wildlife Estate – ook passievol oor diere. Haar pa was ’n saaiboer wat ook met beeste geboer het en, as kind, was sy altyd besig om voëltjies en ape te red. Sy het egter nooit gedink dat sy die geleentheid sou kry om met leeus en tiere te werk nie.

Sharine Barnard Se Nuwe Enkelsnit, Pray

“As jy eers die voorreg gehad het om met hierdie ongelooflike diere te werk, wil jy nooit weer iets anders doen nie. Net soos kinders, het elkeen van hulle ’n unieke persoonlikheid. As jy hulle respekteer en hulle met die nodige liefde, aandag, geduld en dissipline hanteer, is dit wat jy ook van hulle af sal kry,” sê sy.

Sharine Barnard Se Nuwe Enkelsnit, Pray

Sharine is ook baie lief vir sport – sy het immers Springbokkleure in atletiek en meer – en glo daaraan om gesond te leef. Hierdie kranige twee- en driekampatleet het ’n baie aktiewe leefstyl en bestuur, saam met haar vennoot, ’n Osoonterapie-kliniek – Ozone Clinic – om mense te help om gesonder te wees. Naweke werk sy ook as sjef by haar eie restaurant.

Sharine glo dat musiek die wêreld kan verander en volgens haar was dit ook haar doel met PRAY. “Ek wil hoop en bemoediging gee aan almal wat dit nodig het. Alles sal reg uitwerk. Jy sal Oukei wees.”

PRAY is nou aanlyn beskikbaar. Laai dit hier af:

SPOTIFY
DEEZER
APPLE MUSIC

SOSIALEMEDIASKAKELS:

FacebookInstagramYouTube

Sharine Barnard Se Nuwe Enkelsnit, Pray

 

 

Trudi Stander

With more than 18 years of experience in the media industry that includes TV, Magazine, Newspaper & Radio. Trudi believes that every moment we are alive is precious. Treat it as such and don’t waste a single second. Be brave, and don't be afraid to assert your power in the pursuit of your dreams. Set your goals, and accomplish them, but be kind to yourself. Make things happen without permission - be strong and face life without fear.

No Comments Yet

Leave a Reply

Your email address will not be published.

BLOSS is an international media platform for South African women who live all over the world in the age group, 20 – 35 years. We integrate print and technology through innovative and exciting ways to keep things fresh, modern and interactive.