Ek Het lank terug al hierdie besluit geneem… Ek bly net hier – in Suid-Afrika
Ek het meer as genoeg redes om die land te verlaat. Ek neem ook niemand kwalik wat die land wil verlaat nie, want die redes om te gaan is baie en almal dra gewig.
Nou wonder ek of daar nog ander is. Ek wonder of daar nog ander mense is wat besluit het: Ek bly hier! Ek kan nie sê dat ek ‘n rasend positiewe verwagting oor die toekoms van hierdie land het nie, maar ek gaan nog steeds hier bly. Hier, in die land van rugby, vis en slaptjips, straatverkopers en sjebeens, ‘n fliek in my taal en boeremarkte. My land.
Ek kan nie sê dat ek nie een of ander tyd (weer) geroof gaan word nie of dat my kar gesteel gaan word nie. Maar ek gaan bly. Ek het ook geen waarborg dat die geweld in die land nie dalk my eie lewe of die lewe van iemand wat naby aan my gaan eis nie. Maar ek gaan nêrens nie. Ek bly net hier. Hier, in die land van braaivleis, poetoepap, Mrs Balls en rooiwyn. Ek het geen waarborg nie, maar ek bly. Ek wil bly. Ek weet dat dit selfs vir sommige mense na dwaasheid gaan klink, maar dis hoe ek voel.
Nou wonder ek: Is daar nog iemand wat dalk bereid is om te sê dat hulle bly en waarom hulle bly? Die doel is nie om die wat die land verlaat het en nog die land gaan verlaat as slegte mense uit te beeld nie. Die doel is net dat die mense wat bly dalk sê waarom hulle bly. Hier, in die land van biltong, boerebeskuit, Wilson Toffies en elf tale. My land!
Hoekom bly jy in Suid-Afrika?
Kliek hier om meer te lees van ons BLOSS Real Life Editors